5 Julie 2023
Die minister van toerisme, Patricia de Lille, sê die Suid-Afrikaanse Toerismeraad het bykans R1,2-miljoen aan reis, verblyf en ander uitgawes bestee toe direkteure en bestuurslede na Brittanje gereis het vir die voorgestelde borgskap van die Engelse Premierliga-sokkerspan, Tottenham Hotspur.
LEES OOK: DE LILLE GAAN DIE TOERISMERAAD ONTBIND NÁ TOTTENHAM HOTSPUR-SKANDAAL
Die beoogde borgskap wat byna R1-miljard sou beloop, is egter geskrap nadat dit groot openbare ontevredenheid uitgelok het. Die raad het destyds gesê dat dit deel was van hulle plan om meer internasionale toeriste na Suid-Afrika te lok.
Weens die omstredenheid het agt uit 11 van raad se direkteure bedank.
Die DA-LP, Manny de Freitas, wou tydens ‘n parlementsitting by De Lille weet wanneer die geld terugbetaal sou word, maar De Lille meen dat geen vrugtelose besteding geïdentifiseer is nie. Die vliegkaartjies vir direkteure en amptenare van die toerisme raad het nagenoeg R640 000 beloop.
LEES OOK: FINANSIËLE HOOF VAN SA TOERISME MOET REDES VERSKAF OOR SOKKERBORGSKAP
De Lille sê interne ouditeurs ondersoek die aangeleentheid. Haar voorganger, Lindiwe Sisulu het die reis vir die voorsitter van die toerismeraad goedgekeur, terwyl hy dit weer vir die res van die span goedgekeur het.
