12 Oktober 2022
Die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, het erken dat sy dit oorweeg om die Numbi-hek van die Nasionale Krugerwildtuin te sluit.
Dié gedagtegang kom ’n week nadat ’n groep Duitse toeriste buite dié hek die slagoffers van ’n motorkaping geword en die 67-jarige Jörg Schnarr doodgeskiet is. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie.
Sisulu sê dié voorval het wêreldnuusplatforms gehaal en dat dít nie is hoe sy wil hê Suid-Afrika uitgebeeld moet word nie.
Sy sê die raad wat sy ontvang het om die Numbi-hek te sluit moet met eienaars van die omliggende oornagverblyfplekke bespreek word.
Linda Grimbeek, die bedryfshoof van die Kruger-Laeveld-sakekamer, het dié idee ten sterkste veroordeel.
“As daar ’n misdaad by ’n ander pad is gaan ons daai hek ook toemaak? Ons het in 2019 ’n hele paar voorvalle buite die OR Tambo Internasionale Lughawe gesien, so, moet ons dan die lughawe sluit? Op die ou end gaan Suid-Afrika oral gesluit wees as ons nou dié tendens begin,” het Grimbeek aan Pretoria FM gesê.
“Die feit van die saak is ons moet hulpbronne kry om ons plekke te beveilig en jy kan nie net iets toemaak nie. Ons stem glad nie hiermee saam nie.”
Die minister se kantoor het intussen gesê dat sy verkeerd aangehaal is.
Sisulu sê die ongelukkigheid van die plaaslike gemeenskap oor grond het die omgewing gedestabiliseer en onveilig gemaak.
Fotokrediet: www.natucate.com