3 April 2024
‘n Video waarin gesien kan word hoe ‘n olifantbul ‘n wildbesigtigingsvoertuig in Zambië bestorm, en die voertuig dan omgooi word tans wyd op sosiale media versprei.

Die safari-operateur, Wilderness het via die Wild Heart Wildlife Foundation in ‘n verklaring gesê dat ‘n 80-jarige Amerikaanse toeris in die voorval dood is nadat hulle die afgelope naweek op ‘n wildbesigtigingsrit in die Kafue Nasionale Park was.
In die video kan gesien word hoe die olifant vanaf ‘n redelike afstand begin om agter die voertuig aan te hardloop. Nadat die voertuig stilgehou het is dit deur die olifant omgegooi. Nog ‘n vrou is dood in die voertuig wat ses passasiers aanboord gehad het.
Die uitvoerende hoof van Wilderness, Keith Vincent sê die toeroperateur se wildbewaarders is baie goed opgelei, en het jare lange ervaring. “In die geval was die gebied van so aard dat die plantegroei dit vir die bewaarder moeilik gemaak het om vinnig genoeg weg te kom.”
Hy het sy medelye betuig met die naasbestaandes van die slagoffers.
Die Wild Heart Wildlife Foundation sê daar is baie redes wat tot hierdie voorvalle kan lei, en dat mense se reaksies soms nie ‘n groot uitwerking het nie omdat wilde diere onvoorspelbaar is. “Dit is belangrik dat mense besef dat hierdie diere steeds wild is, en daarom moet hulle met respek hanteer word.”