Nuuskommentaar: 31 Oktober
Deur: Jaco Kleynhans
Verlede week was dit presies sestig jaar sedert die Kubaanse missielkrisis afgeweer is. Tydens dié krisis is daar gevrees vir ʼn volskaalse kernoorlog tussen die Weste en die Sowjetunie. Sestig jaar later neem vrese vir ʼn kernoorlog tussen die Weste en Rusland wéér toe. Die voormalige opperbevelvoerder van Navo, admiraal James Stavridis, het verlede week gesê dat die Russiese president, Wladimir Poetin, waarskynlik net die Weste probeer verdeel deur voortdurend met die gebruik van taktiese kernwapens te dreig. Stavridis waarsku egter dat Rusland se gebruik van ander wapens van massavernietiging nie so vergesog is nie.
Oor die naweek het Poetin weer die ongegronde bewering herhaal dat Oekraïne voorberei om ʼn sogenaamde ‘vuilbom’ te laat ontplof. Dit kan maklik gesien word as ʼn poging deur Poetin om sélf so ʼn bom, of ander chemiese wapens by die oorlog in Oekraïne in te span. Nadat 300 000 nuwe soldate die afgelope paar weke in Rusland gemobiliseer is, is die Russiese weermag besig om te hergroepeer met ʼn groot hoeveelheid wapens, ammunisie, toerusting en ander voorrade wat tans in Russiese gebiede naby die grens van Oekraïne afgelewer word.
Die afgelope naweek het die uitvoere van graan uit Oekraïne ook tot ʼn stilstand gekom nadat Rusland uit ʼn ooreenkoms met Turkye, die Verenigde Nasies en Oekraïne onttrek het. Dié ooreenkoms wat vroeër vanjaar gesluit is, het dit moontlik gemaak dat miljoene ton graan uit Oekraïne na die res van die wêreld vervoer kon word. Die Russiese onttrekking uit die ooreenkoms beteken dat daar weer binnekort wêreldwye graantekorte kan ontstaan.
Rusland se onttrekking uit die graanuitvoerooreenkoms volg op ʼn Oekraïense hommeltuigaanval op ʼn Russiese skip in die hawestad, Sevastopol, in die besette Krim-skiereiland. Dié aanval bevestig Oekraïne se vermoë om toenemend suksesvolle aanvalle op Russiese teikens in gebiede wat deur Rusland beset word, te loods, maar dit bevestig ook die huidige eskalasie in die konflik wat talle risiko’s vir die res van die wêreld inhou.
Die Oekraïnse weermag is die afgelope paar weke besig om voor te berei vir ʼn aanslag op die stad, Kherson. Met die huidige herfsreën in Oekraïne vorder beide Oekraïne en Rusland se soldate stadig, en herinner dit ʼn mens aan Napoleon se inval in Rusland in 1812 en Hitler se inval in Rusland in 1941 wat ook elke keer deur modder, koue en reën gestuit is. Die volgende paar wintermaande in die ooste van Oekraïne gaan ʼn hoëvlak deursettingsvermoë van soldate eis.
Terwyl die oorlog aanhou verdiep, en die naweek se Russiese onttrekking uit die graanuitvoerooreenkoms weereens bevestig hoe maklik die wêreldekonomie deur gebeure in die oorlog geraak word, is dit duidelik dat saam met die vrese vir ʼn lang oorlog, vrese vir ʼn globale ekonomiese krisis daagliks toeneem.
Die ekonoom, Niall Ferguson, het onlangs tydens die IMF se vergadering in Washington D.C. gesê dat die wêreld net gelukkig sal wees indien die huidige globale ekonomiese krisis ligter as die een in die 1970’s sal wees en die oorlog in Oekraïne nie tot die vlak van die Tweede Wêreldoorlog eskaleer nie.
Die oorlog in Oekraïne het vanjaar reeds bygedra tot wêreldwye voedseltekorte, stygende energiekoste en inflasie. Met ʼn verdieping in die konflik moet ons gereed wees vir nog meer krisisse en ekonomiese gevolge wat oor die volgende maande, selfs jare, die wêreld verder gaan destabiliseer.