27 Februarie 2024
Die VF Plus sê hy het die Gautengse LUR vir gesondheid versoek om dringend die dispuut met Telkom op te los sodat die telefoondiens na 32 hospitale en 83 klinieke in die provinsie herstel kan word.
Volgens die party se lid van die provinsiale wetgewer, Amanda de Lange, het die LUR, Nomantu Nkomo-Raleholo, meer as ʼn week tyd gehad om die probleme uit te stryk.
Sy sê van die hospitale is al vir langer as 10 dae sonder kommunikasie gelaat. “Dokters en personeel moet nou van hul privaat fone gebruik maak om ernstige siek pasiënte na streekshospitale te verwys.”
Volgens haar het die party 17 hospitale en klinieke geskakel en slegs ʼn operateur by die Kalafong-hospitaal in Pretoria het die foon beantwoord.
De Lange sê hulle neem kennis van die departement se betaling van meer as R7-miljoen aan Telkom, maar dat dit nie genoeg is nie.