5 September 2023
Die minister van elektrisiteit dr. Kgosientsho Ramokgopa sê fase 6-beurtkrag is ingestel sodat die instandhouding van infrastruktuur geprioritiseer kan word.
Hy het vanoggend op ‘n mediakonferensie meer inligting gegee oor die kragkrisis en waarom fase 6-beurtkrag skielik ingestel moes word. Volgens Ramokgopa gaan sy departement instandhouding prioritiseer omdat dit beteken dat kragstasies en ander infrastruktuur in die langtermyn meer betroubaar sal wees.
Hy sê die tekort aan instandhouding is nou besig om Suid-Afrikaners in te haal. Volgens Ramokgopa het opwekkingseenhede wat onklaar geraak het, ook bygedra tot fase 6-beurtkrag.
Die hoof van opwekking by Eskom, Bheki Nxumalo sê hulle sal by hulle instandhoudingsbeleid hou.
Die Nasionale Tesourie het vroeër ‘n reddingsboei van R254-miljard aan Eskom toegeken op voorwaarde dat die kragvoorsiener dit aan instandhouding bestee.
