28 Junie 2022
Die burgemeester van die Buffalo City-metro in die Oos Kaap, Xola Pakati sê mense moenie spekuleer oor die oorsaak van die dood van 21 jong mense in ‘n taverne nie, en moet eerder wag vir die polisie om sy ondersoek te voltooi.
Inwoners beskuldig die metro daarvan dat hy die bouplanne van die Enyobeni taverne in Oos-Londen goedgekeur het, sonder om behoorlike ondersoeke te doen. Die polisie het nog niks gesê oor die oorsaak van die dood nie.
LEES OOK: TAVERNE-EIENAAR SE DRANKLISENSIE OPGESKORT NÁ DOOD VAN 21 JONG MENSE
17 van die 21 slagoffers wat die naweek dood is, is reeds geïdentifiseer. Die jongste slagoffer is 13 jaar oud.
Intussen meen die jeuggroep, LoveLife dat inwoners van Scenery Park bewus moes gewees het van minderjarige drinkery by die taverne. Die groep se uitvoerende hoof, dr Linda Ncube-Nkomo sê hul eis dat die eienaar van die taverne van strafbare mansslag aangekla word.