13 November 2023
Die VF Plus sê hy het met skok kennis geneem van die talle ernstige bewerings van wangedrag en bedrog, wat tydens die onlangse vergadering van die Tshwane-metroraad geopenbaar is.
Die finansiële dissiplinêre raad het ‘n verslag aan die metroraad voorgelê, tydens ‘n raadsvergadering verlede week, waarin 33 items gelys word wat verband hou met forensiese ondersoeke en waar dissiplinêre en regsaksies voorgestel word.
Die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metro en die VF Plus-raadslid, Grandi Theunissen sê sommige van die items sloer al etlike jare lank.
Theunissen meen dit beklemtoon die dringendheid om kwessies van finansiële wangedrag en -praktyke in die Tshwane-metro spoedig te takel.
Hy sê die sal die proses om die beskuldigde persone te vervolg en verantwoordelik te hou, glo deeglik dophou.
Die VF Plus sê die verslag wys duidelik waar die benarde finansiële toestand van die metro ontstaan het en dat hy alles in sy vermoë sal doen om die skade te herstel en te verhinder dat dit weer gebeur.