12 Augustus 2022
‘n Strafregtelike klag is aanhangig gemaak ná twee karretjies van ‘n tuimeltrein by die Legoland pretpark in Duitsland met mekaar gebots het.
Plaaslike media berig dat minstens 34 mense beseer is waarvan twee ernstig.
Volgens plaaslike owerhede kon omstanders hoor hoe een van die karretjies op die Fire Dragon tuimeltrein remme aanslaan, waarna dit in ‘n ander karretjie vasgery het. Die park is in Günzburg, Bavaria.
Drie helikopters moes ook ingespan word om die beseerde pasiënte na hospitale te neem.
Dié voorval kom slegs ‘n week nadat ‘n 57-jarige vrou by ‘n pretpark in Klotten in die suid-weste van Duitsland uit ‘n bewegende tuimeltrein na haar dood geval het.