16 Januarie 2023
Die tabakmaatskappy, British American Tobacco (BATSA), het begin met ‘n afleggingsproses om sy Suid-Afrikaanse werksmag te verklein.
Nagenoeg 200 werknemers se poste is in gedrang weens ‘n verlaging in dié onderneming se uitset.
Die maatskappy voer aan dat die aanhoudende toename van onwettige handel in sigarette een van die belangrikste redes is waarom sy verkope van wettige sigarette afneem.
Volgens die maatskappy het die ongrondwetlike verbod op sigaretverkope – tydens die Covid-19 inperkingsmaatreëls in 2020 – ‘n vastrapplek vir die smokkelhandel verseker.
British American Tobacco het sedert 2019 reeds 30% van sy werksmag – wat destyds 1800 sterk was – ontslaan. Die maatskappy verteenwoordige ondermeer Dunhill, Peter Stuyvesant, Rothmans en Pall Mall.