13 Augustus 2022
Die VF Plus sê in ‘n verklaring dat hy vandag se Afrikaanse Taaldag vier met diegene wat die taal praat en bevorder.
Die party se LP en hoofwoordvoerder oor kuns en kultuur, Heloïse Denner sê Afrikaans moet gekoester, bewaar en uitgebou word en vele sprekers en organisasies beywer hulself juis daarvoor.
Sy meen daar is egter ook diegene wat Afrikaans as ʼn politieke speelbal gebruik.
Denner sê terwyl die aanslag teen Afrikaans geweldig is, is daar politieke partye en organisasies wat die stryd om die beskerming van Afrikaans misbruik vir politieke gewin.
Volgens haar loods die ANC-regering gereeld aanvalle op Afrikaans as voertaal in die onderwys en andersins. Sy sê ʼn direkte gevolg van die ANC se politiekery is dat miljoene Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verstoot en gemarginaliseer voel omdat hul moedertaal nie na behore erken, waardeer en gerespekteer word nie.
“Dit druis in teen die sogenaamde nasiebou en sosiale kohesie-doelwitte wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan van die ANC vervat is. Die onderdrukking van ʼn taal het egter meestal die teenoorgestelde uitwerking wat tot gevolg het dat sodanige taal floreer te danke aan sy sprekers.”
Sy sê die VF Plus vier dus vanjaar diegene wat Afrikaans ná aan die hart koester as moedertaal en spreektaal.