7 April 2022
“Die verval van Vrystaatse paaie sal slegs opgelos kan word indien die Vrystaatse regering kundige kontrakteurs aanstel en meer geld daarvoor begroot.”

Só sê die VF Plus lid in die provinsiale wetgewer, Armand Cloete. Volgens Cloete het die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, William Bulwane, vroeër vandag tydens sy begrotingsrede die skuld vir die swak toestand van paaie in die provinsie op Jan van Riebeeck geplaas.
“Die realiteit is egter dat jare se swak instandhouding en onstabiliteit in die departement die oorsaak vir die swak toestand van paaie is. Die departement het reeds vir etlike jare slegs waarnemende departementshoofde en word nou deur die tweede LUR sedert 2019 gelei,” sê Cloete.
Hy sê dié departement is veronderstel om die grootste inkomstebron vir die provinsie en ook die ruggraat van ekonomiese ontwikkeling te wees, maar kry slegs 7% van die totale provinsiale begroting van R2,79 miljard.