Die VF Plus meen ondanks die koalisieregering in die Tshwane-metro se uitlatings oor hoe hard hulle werk aan skoonmaak-aksies en om diensleweringsprobleme op te los, skets die werklikheid op grondvlak ʼn ander prentjie.

‘n VF Plus-raadslid in die Tshwane-metro, Mark Surgeon sê groot dele van die metro is snags in die donker gehul weens stukkende straatligte, motoriste moet onrybare paaie trotseer en word begroet met vullis wat oral ophoop.
Hy sê in Montana, Sinoville en Doornpoort is daar paaie wat meer slaggat as pad is. “Derdeweg in Montana, wat die buurt se verbindingsroete is, is meer grond as teer en besaai met slaggate.”
Surgeon sê by belangrike kruispunte soos die aansluiting van Stormvoëlweg en Waltlooweg oorkant die Denlyn-winkelsentrum, werk verskeie verkeersligte al vir maande nie. In groot gebiede van die Moot werk straatligte glad nie en neem misdaad van onder meer kabels, motors en watermeters toe.
Hy sê die VF Plus daag die ActionSA/ANC/EFF-geleide koalisieregering uit om werklik daad by die woord te voeg om te bewys dat daar ʼn verbetering in dienslewering aan alle gemeenskappe in die metro is.