29 Februarie 2024
Suid-Afrika se twee superaanhangers, Mama Joy Chauke en Botha Msila se besoek aan die Rugby Wêreldbeker in Frankryk verlede jaar, het die belastingbetaler R1,3-miljoen gekos.
Dié inligting is vervat in terugvoer wat die burgerregteorganisasie, AfriForum vandag van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur ontvang het.
AfriForum het in Oktober verlede jaar ‘n PAIA-aansoek gebring, om inligting te kry oor die reis en verblyf kostes van Chauke en Msila.
Ander kostes vir die twee superaanhangers se tyd in Frankryk, sowel as kostes verbonde aan hul bywoning van ander internasionale sportgeleenthede, is nie aan Afriforum oorhandig nie.
Afriforum se veldtogbeampte, Charné Mostert sê ‘n formele klag sal by die Openbare Beskermer gelê word oor die Departement van Sport, Kuns en Kultuur se wanaanwending van geld.
“Die bedrag wat net aan vlugte en verblyf bestee is, is veel meer as wat talle Suid-Afrikaners per jaar verdien. AfriForum sal nie net toesien dat hierdie ongerymdhede aan die kaak gestel word nie, maar ook dat daar gevolge vir hierdie optrede sal wees,” sluit Mostert af.