10 Februarie 2022
Die voormalige uitvoerende hoof van die suikermaatskappy, Tongaat Hulett, Peter Staude en ses mede-beskuldigdes het vandag in die Spesiale Handelshof in Durban op aanklagte van beweerde bedrog van ongeveer R3,5-miljard verskyn.
Hulle is op borgtog van R30 000 elk vrygelaat en die saak is tot 11 April uitgestel.
Hulle word van bedrog en oortredings van die Wet op Finansiële Markte, die Maatskappyewet en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde misdaad aangekla.
Die saak volg nadat daar glo ongerymdhede by die maatskappy se boekhouding aan die lig gekom het.
Die sewe beskuldigdes word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Tongaat se inkomste en winste te oordryf deur van eiendomstransaksies gebruik te maak. Dit het daartoe gelei dat die topbestuur glo reuse bonusse ontvang het.
Die ses ander beskuldigdes is, ‘n oud-vennoot van Deloitte, Gavin Kruger, die voormalige finansiële hoof van Tongaat Hulett, Murray Munro, dié maatskappy se oud-besturende direkteur, Michael Deighton en die voormalige beplanningsdirekteur, Rory Wilkinson.
Die voormalige regshoof van Tongaat Hulett Developments, Kamasagrie Singh en die maatskappy sew oud-finansiële direkteur, Samantha Shukla is ook deel van dié groep.