8 Junie 2021
‘n 37-jarige vrou van Tembisa het glo gisteraand geboorte geskenk aan 10 babas in ‘n Pretoriase hospitaal.
Gosiame Thamara Sithole werk as ‘n bestuurder van ‘n winkel. Volgens berigte het sy aanvanklik gedink sy verwag ‘n sesling, waarna ‘n sonar gewys het dat sy ‘n “agtling” verwag.
Sithole is luidens The Citizen egter gisteraand verras met twee ekstra babas – dus ‘n totaal van sewe seuns en drie dogters.
LEES OOK: VROU SKENK GEBOORTE AAN NEGE BABAS
Die Guinness boek van wêreldrekords het Sithole en haar man, Teboho Tsotetsi geluk gewens en meen ‘n span sal nou ondersoek instel of sy wél die nuwe rekordhouer is van die meeste babas, wat op een slag gebore is.
Verlede maand het Halima Cissé van Mali nege babas gehad nadat sy aanvanklik gedink het sy verwag sewe babas.
Intussen gaan dit goed met Sithole en die babas, wat op sewe maande en sewe dae gebore is. Sy en haar man is reeds die ouers van ‘n sesjarige tweeling.