Deur: Redaksie
Ilse Strauss en haar gesin woon reeds die laaste agt jaar in Israel waar hulle as vrywilligers by die Christelike organisasie Bridges for peace betrokke is. Dié organisasie, waarvan Strauss die internasionale ontwikkelingsdirekteur is, het ten doel het om brûe tussen Christene en Jode te bou. Strauss is van Suid-Afrika en haar man van Namibië. Hulle dogtertjie, Lily, is in 2021 in Israel gebore.
Sy vertel dat Israel ’n sterk verdedigingslyn het wat lug- en grondaanvalle ewe suksesvol afweer. ’n Noodtoestand is onlangs aangekondig en op die oomblik is al die besighede in Israel gesluit en word slegs noodsaaklike dienste gelewer.
Strauss vertel dat almal in die land ’n toepassing op hulle fone het, en wanneer die Israelse verdedigingsmagte ’n aanval bespeur, word ’n kennisgewing uitgestuur wat jou aansê om jou na jou bomskuiling te haas.
“Ons het vanoggend een gehad, so om en by 07:30, en die aanval is geloods in die tyd wat almal werk toe is. Ons was vanoggend vir ’n uur in die bomskuiling waarna ons toestemming gekry het om huis toe te gaan, en dan gaan die Israeli’s aan soos altyd.”
Sy sê almal gaan aan met hulle lewe, want hulle moet.
“Almal is moeg, want die missiele word meestal deur die nag afgevuur. Niemand slaap regtig nie. Mense wat bomskuilings by hulle huise het, sal in die bomskuilings slaap, maar ons bomskuiling is byvoorbeeld op die vloer onder ons. Ons deel hom met twee gesinne. Veertien mense en drie honde in ’n ruimte van twee by drie meter, wat beteken niemand kan lê nie.”
In Tel Aviv kom die aanvalle agt, nege keer op ’n dag en is dit nie ongewoon vir ouers om vir hulle kinders beddens in die bomskuilings te maak nie.
Strauss sê die Israeli’s het geweet wat die gevolge van ’n aanval op Iran sou wees, maar voel dat hulle geen ander keuse gehad het nie.
“Iran het keer op keer op keer gesê dat hulle Israel van die kaart sal afvee. Israel het ook geleer, dwarsdeur die geskiedenis, as iemand sê ‘ek kom om jou te vernietig’, neem jy hom ernstig op.”
Volgens Strauss is die oorlog wat Israel teen Iran voer nie net namens hulself nie, maar namens almal wat weier om die knie voor radikale Islam te buig.
Sy is ook vol lof vir Israel se verdedigingsmeganismes.
“Israel se Iron Dome en David’s sling skiet 80% van die missiele af. As Israel dit nie gehad het nie, was daar ’n miljoen burgerlikes dood.”
Strauss beskryf Iran se aanval op burgerlike teikens as terreur.
“Vanoggend het hulle ’n hospitaal raakgeskiet in die suide. Ek hoor baie keer mense sê Israel het hospitale in Gasa raakgeskiet. Absoluut. Maar, daar was bewyse dat daar onder daardie hospitale ’n Hamas-hoofkwartier was.”
En hoe beskryf sy die gemoed in Israel sedert die aanval op Iran?
“Vasberade. Veerkragtig. Hierdie ding is so briljant gedoen dat dit nie deur mense gedoen kon wees nie. Die hand van God was daaroor.”
One Response
Nou weet hulle hoe die mense van Gaza voel. Dit is slegs die ‘hand van Amerika’ wat isreal aan die gang hou. Vra vir die persoon of hulle ook gereed is om ‘n gesin van Gaza se woning met alles daarin oor te neem. Die gemoed in Israel is vasberade en veerkragtig ? Is daar nie duisende inwoners van israel wat landuit vlug nie ? Donald (die uitverkorene) waarsku die Amerikaners om nie isael te besoek nie. Die persoon vind dit goed dat duisende mense uitgewis word omdat daar ‘terroriste’ in hulle nabyheid is ? Uiters koelbloedig gevoelloos. In elk geval net nog ‘n leuen om Gaza ens. oor te neem. Gebreinspoeldes is ‘n baie groter gevaar as Islam.Watter ding is nie deur mense gedoen nie ? Is dit die dome wat tog nou ‘n paar missiele deurlaat en toelaat dat ‘n ‘onskuldige’ hospitaal getref word ? Wat is dan briljant daaraan ? Dit is nou regtig ‘n vinnig saamgeflanste beriggie om oor skaam te wees. Leuens en halwe waarhede in die naam van jou godsdiens is nie ‘n deug nie. Jy maak nie skatte in jou hemel bymekaar met sulke twak nie. Mense ontwaak.