14 Oktober 2024
‘n Vermeende Suid-Afrikaanse dwelmsmokkelaar is in Ethiopië in hegtenis geneem nadat sy betrap is met dwelms – ter waarde van meer as R5-miljoen – wat vir Suid-Afrika bestem was.
Die 29-jarige vrou is aangekeer nadat die polisie in Gauteng haar deur Interpol laat uitwys het – deels omdat sy deur verskillende lande wou reis op pad na Suid-Afrika.
‘n Polisiewoordvoerder, brigadier Athlenda Mathe sê samewerking met die Ethiopiese federale polisie in Addis Abeba, het daartoe gelei dat die vrou in hegtenis geneem is.
Mathe sê volgens haar reisplan sou sy van Brasilië af oor Addis Abeba en Soedan reis op pad na Suid-Afrika.
Dertien kilogram kokaïn is in haar bagasie gevind en sy sal binnekort in Ethiopië in die hof verskyn.