30 Maart 2023
Die voormalige ActionSA-voorsitter in Gauteng en Midvaal-burgemeester, Bongani Baloyi het pas aangekondig dat hy sy eie politieke party, Xiluva op die been bring.

Dit kom nadat hy twee weke gelede uit ActionSA bedank het. Hy sê sedert sy bedanking is hy deur talle politieke partye genader om moontlik by hulle aan te sluit.
Volgens Baloyi het hy elke party oorweeg, maar meen hy het besef dat Suid-Afrika se jong mense na ‘n politieke party soek, wat tot hulle behoeftes spreek.
“Ek het deur my jare in die politiek besef dat jong mense die land kan en moet lei.” Volgens hom is werkloosheid onder die jeug op die hoogste vlak in jare, en sukkel jong mense dikwels om kop bo water te hou.
Hy sê jong mense is kwaad oor gebeure in die land, maar meen omstandighede kan by die stembus verander. Volgens hom is daar baie jong mense in die land, wat ‘n verandering kan bring, maar wat nie die geleentheid gegun word nie.
In die vierde kwartaal van 2022 was 61% van werksoekers tussen 15- en 24 jaar oud werkloos. Volgens hom is die grootste groep stemgeregtigdes in die land tussen 25- en 45 jaar oud, maar word hierdie mense nie behandel as die “belangrikste ouderdomsgroep in Suid-Afrika nie.”
Hy sê die land se leier is oud, en het hulle leeftyd bereik. Volgens Baloyi kan die land nie nuwe hoogtes bereik met gister se idees nie.
Teen 2019 was daar 48 politieke partye in Suid-Afrika.