Nuuskommentaar: 8 Augustus 2022
Deur: Jan Bosman
Om slegte nuus te hoor is vir niemand lekker nie. In die ou dae is boodskappe per persoon oorgedra tussen dorpe en ook in tye van oorlog tussen militêre kampe en is die draer van ʼn baie slegte boodskap soms doodgemaak. Gevolglik die sêding in Engels “Don’t shoot the messenger” en “moenie die boodskapper kruisig nie” in Afrikaans. Die week is ‘n diplomatieke warboel ontketen toe ‘n Eswatini (Swaziland) regeringswoordvoerder Alpheous Nxumalo, Dinsdag op ‘n Suid-Afrikaanse radiostasie (SAFM) sê “Suid-Afrika is besmet met die kanker van kriminaliteit.” Sy uitlating “infected with the cancer of criminality” het die Suid-Afrikaanse Departement van Buitelandse Sake en waarskynlik in opdrag van iemand in die ANC , genoop om misnoë uit te spreek en sal die Eswatini Hoë Kommisaris ingeroep word om die stelling te verduidelik. Die feit dat die Suid-Afrikaanse regering elke dag deur gewone Suid-Afrikaners beskuldig word en verkwalik word vir onaanvaarbare hoë vlakke van misdaad word geïgnoreer maar toe die boodskapper van buite ons grense is, is die Suid-Afrikaanse regering ontsteld. As dit ʼn geïsoleerde insident was wat buite konteks was, kon mens dalk gedink het die Suid-Afrikaanse regering is geregverdig in sy optrede om irritasie te wys. Op 3 Februarie 2019 het die Suid-Afrikaanse regering ook met uiterste ontsteltenis gereageer op ʼn Sondagkoerant se voorblad wat berig het vyf van Suid-Afrika se grootste handelsvennote te wete die ambassadeurs van Amerika, Duitsland, Brittanje, Nederland en Switserland hulle kommer in ʼn memorandum uitgespreek het oor verskeie sake waaronder staatskaping en daadwerklike optrede van die Suid-Afrikaanse regering wat nodig is om investering aan te moedig, vir ʼn verbintenis van die regering tot die reg, deursigtigheid in beleids- en regulatoriese sekerheid onder andere rondom swart ekonomiese bemagtiging en terwyl ondersteuning uitgespreek is vir grondhervorming moes daar sekerheid kom oor eiendomsreg in die lande se investering. Die media het die interne memorandum van die ambassadeurs wat reeds in Junie 2018 gebruik is as ʼn gesprekdokument met ʼn adviseur van Ramaphosa wat getaak is met buitelandse beleggings verkeerdelik aangehaal as ʼn amptelike skrywe aan die president. Namens die ANC het Zizi Kodwa toe woordvoerder van die ANC hewige ontsteltenis uitgespreek en gesê daar is ʼn proses om die land van staatskaping en verwante korrupsie te bevry. Hy het selfs te kenne gegee dat Suid-Afrika ʼn leidende lig in die wêreld is om korrupsie te bestry. Die inmenging van die vyf lande is selfs deur die ANC as ʼn vorm van staatskaping gesien. Die minister van buitelandse sake, op daardie stadium, Lindiwe Sisulu, het die departement opdrag gegee om die vyf ambassadeurs te “demarche” ʼn vorm van diplomatieke protes en waarin hulle ontbied is om die inhoud van die memorandum en verbreking van protokol te verduidelik. Die kwessies in die ambassades se memorandum is al vantevore telkens, maar tevergeefs, deur verskeie binnelandse organisasies en instellings gebruik om ernstige tekortkominge en vergrype onder die regering se aandag te bring. Die kwessies word doodeenvoudig geïgnoreer. Omdat die boodskapper in die geval sterk buitelandse regerings was, was die ANC regering egter in ʼn verleentheid en moes op die wyse reageer. Ons kan vandag na drie jaar terugkyk en die ambassades op elkeen van die punte gelykgee. Voor en na die ANC se onlangse beleidskonferensie is heelwat van die sake ook deur ANC leiers as problematies uitgelig. Die kwessies bly nog steeds relevant en is nog steeds nie aangespreek nie. Die stelling “Suid-Afrika is besmet met die kanker van kriminaliteit” kon net sowel uit die mond van enige Suid-Afrikaner gekom het. Inteendeel veel erger stellings is die ANC al toegevoeg maar omdat die stelling deur ʼn ander land se regering gemaak is, was die gort die week gaar. Die ANC het waarskynlik al lankal besef dat hy nie meer die morele hoë grond in die internasionale arena beklee nie en dat die internasionale gemeenskap nie meer die land met fluweelhandskoene hanteer soos die eerste twee dekades na 1994 nie. Dit is en bly daarom ʼn verleentheid om met realiteite gekonfronteer te word. Eerder as om eerlik en met oplossings te reageer verkies die ANC regering eerder om die boodskapper te kruisig. Die enigste probleem is net dat daar reeds soveel boodskapdraers is van slegte nuus wat insluit politieke partye, politieke kommentators, die media, voormalige ANC presidente, organisasies en instellings en inderdaad ook faksies in die regerende party dat die ANC se “verontwaardige” kruisiging van boodskappers eerder lagwekkend en skynheilig voorkom. Suid-Afrika is inderdaad besmet met die kanker van kriminaliteit.