Suid-Afrika behoort rooi tapyt vir Amerikaners uit te rol


Luister nou

Volgende

Suid-Afrika behoort rooi tapyt vir Amerikaners uit te rol

Nuuskommentaar: 18 Januarie 2023

Deur: Jaco Kleynhans

Die Amerikaanse Minister van Finansies, Janet Yellen sal later hierdie week ‘n reis na drie Afrikalande, insluitende Suid-Afrika, onderneem. Yellen se besoek volg skaars ‘n maand na die Afrika-leiersberaad wat deur die Biden-administrasie in Washington D.C. aangebied is.

Sedert Biden aan die begin van 2021 president van die VSA geword het, het sy administrasie herhaalde pogings aangewend om diplomatieke en ekonomiese bande met lande in Afrika te versterk. In Augustus verlede jaar het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken Suid-Afrika besoek. ‘n Maand later het President Ramaphosa die VSA besoek en is hy deur Biden by die Withuis ontvang. ‘n Maand later was dit die Suid-Afrikaanse minister van finansies Enoch Godongwana wat deur Yellen in Washington ontvang is.

Yellen sal tydens haar besoek aan Afrika eerste in Senegal stop waar sy met President Macky Sall, wat ook tans die voorsitter van die Afrika-unie is, sal vergader. Die regering van Senegal het die afgelope paar jaar dié land se bande met die VSA versterk met onder andere ‘n samewerkingsooreenkoms op die terrein van verdediging wat in 2016 tussen die twee lande onderteken is.

Senegal is een van die mees stabiele demokrasieë in Afrika en is ‘n land wat met sukses beleggings uit die VSA lok. Nog ‘n Afrikaland wat tans in die regte rigting beweeg en wat snelgroeiende steun in die VSA geniet is Zambië.

Sedert die sakeman Hakainde Hichilema in Augustus 2021 president van Zambië geword het, is hy besig om dié land, wat in 2020 nie daarin kon slaag om sy buitelandse skuld te betaal nie, reg te ruk.

Zambië, hoewel nie een van die grootste ekonomieë in Afrika nie, word die afgelope tyd in die VSA en Europa as ‘n model demokrasie en ‘n voorbeeld van wat in Afrika moontlik is, beskou. Yellen se keuse om dus na Senegal na Zambië te reis en drie van haar agt dae in Afrika daar deur te bring, is veelseggend.

Yellen se besoek sal volgende week in Suid-Afrika afgesluit word. Die Amerikaanse president Joe Biden en die leierskap van die Demokrate in die Amerikaanse kongres probeer die afgelope twee jaar verbete om bande met Suid-Afrika te versterk.

Blinken is verlede jaar deur ‘n onvriendelike en vingerwysende Naledi Pandor in Pretoria ontvang. Terwyl Ramaphosa, Pandor en die res van die Suid-Afrikaanse regering graag aanvalle op die VSA loods, stel hulle ook eise aan die Amerikaanse regering, soos tydens Ramaphosa se besoek aan die Withuis verlede September.

Suid-Afrika is die VSA se grootste handelsvennoot in Afrika. Die Suid-Afrikaanse ekonomie vind by verre die grootste voordeel in Afrika uit beide uitvoere na Amerika en deur investering van Amerikaanse maatskappye in ons land. Suid-Afrika het ‘n groot handelsoorskot met die VSA en ons uitvoere na Amerika het die afgelope paar jaar skerp gestyg.

Noue samewerking met die VSA, wat ook Amerika se belange beter dien, kan groot voordele vir Suid-Afrika inhou. Met Yellen se besoek volgende week behoort Ramaphosa, net soos Sall in Senegal en Hichilema in Zambië self met die Amerikaanse minister te ontmoet en behoort die rooi tapyt uitgerol te word ten einde broodnodige investering uit die VSA te fasiliteer. Dit is in belang van die hele Suid-Afrika dat ons land ‘n sterk verhouding met die grootste ekonomie in die wêreld handhaaf.

Foto: NPR

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

NUUSWEEK JACO

Internasionale perspektief: Brics groot, maar nog lank nie invloedryk

NUUSWEEK WILLIE

Eie rigting: Uitskop van adjunkminister Whitfield bied regs- en politieke opsies

KgosikgoloKgafelaKgafelaII_26June2025

Koning regeer oor afstand ná dreigemente

Jake_White_EHTL6442-scaled-e1673217119283

Jake White verlaat die Blou Bulle

etol3

Gauteng betaal nog R3,4 miljard vir e-tol – en die rekening bly groei

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-07-05 112441
Solidariteit oorweeg regstappe teen Bidvest oor “rassistiese” beurs
Vrou wat kind doodry
Vrou wat glo sy ry eie kind dood, inspireer nou ander
Glyryer2
16-JARIGE PRETORIANER DIE LAND SE JONGSTE GLYRYER
NUUSWEEK JACO
Internasionale perspektief: Brics groot, maar nog lank nie invloedryk
NUUSWEEK WILLIE
Eie rigting: Uitskop van adjunkminister Whitfield bied regs- en politieke opsies

Suid-Afrika behoort rooi tapyt vir Amerikaners uit te rol


Luister nou

Volgende