1 Julie 2021
‘n Studie deur die Nasionale Vereniging van Uitsaaiers (NAB) het bevind dat jong mense steeds kies om radio te luister – al is daar ook ander vorme van vermaak.
Luidens die data vanuit ‘n meningsopname vir die eerste kwartaal van 2021 het 95% van die respondente tussen 15- en 24 jaar oud, aangedui dat hulle radio luister.
Van hierdie groep het 92% aangedui dat hulle weekliks radio luister, terwyl 70% daagliks luister.
Dit blyk ook asof al hoe meer mense in dié ouderdomsgroep kies om na nuus te luister, terwyl daar ook van die respondente is wat debatte en gesprekke oor aktuele sake verkies.
Veral in die lig van die Covid-19-pandemie, beskou jong mense die radio as ‘n waardevolle bron van inligting.
Volgens die NAB stel dié bevindinge dit opnuut duidelik dat radio as ‘n bron van inligting en vermaak, belangrik is vir dié ouderdomsgroep, ondanks mededinging van sosiale media.
Die NAB sê dit is ook ‘n aanduiding dat radio uiters belangrik is om die jeug te bemagtig deur middel van opvoedkundige programme en inligting.
Pretoria FM het met ‘n paar mense in dié ouderdomsgroep gesels om uit te vind hoe hulle radio oor die algemeen ervaar. Die 24-jarige Eckhard Engelbrecht van Pretoria sê hy luister daagliks radio vir ongeveer 40 minute op pad werk toe en weer dieselfde hoeveelheid, op pad terug.
Vir Jordynne Engelbrecht (24), ook van Pretoria, is musiek die belangrikste rede waarom sy radio luister.
Lienke Spies (19) sê sy luister radio wanneer sy bestuur. “Ek hou daarvan om na onderhoude te luister en ook na die nuus. Ek hou ook van die verkeer omdat ek dan weet waar ek moet ry en watter paaie ek moet vermy.”
Die 15-jarige Ansuné Schutte van Bethlehem sê sy luister radio as haar gesin in die motor ry of wanneer hulle ‘n geselligheid hou. “Ek luister veral na musiek, maar daar is dikwels iets interessant in die nuus, waarna ek ook luister.”