16 Januarie 2023
’n Nepalese studente-vlieënier wat vermoedelik verdere gevorderde opleiding in Suid-Afrika ondergaan het, is een van die twee slagoffers wat dood is toe ’n ligte vliegtuig gister in die suide van Johannesburg neergestort het.
Volgens die Burgerlugvaartowerheid het die vliegtuig Sondag omstreeks 09:00 naby Nasrec duskant die FNB-stadion in Johannesburg neergestort.
Die twee insittendes het kort tevore by die Grand Central-lughawe in Midrand vir ’n “opleidingsvlug” opgestyg met die doel om weer later na Grand Central terug te keer.
Intussen het Nepal gister een van sy grootste lugrampe in dekades beleef, toe ’n vliegtuig op ’n binnelandse vlug met 72 mense aan boord neergestort het.
Nooddienswerkers in Nepal is nog op soek na 4 mense wat vermis is, na ‘n vliegtuig van Yeti Airlines gister in Pokhara neergestort het.
Die liggame van 68 van die 72 insittendes is reeds gevind.