15 Februarie 2023
‘n Lid van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus-studenteraad (KSR) word deur AfriForum Jeug met regshulp bygestaan nadat sy uit haar amp verwyder is.
Dié jeugorganisasie sê hy beskou dit as ’n poging deur die universiteit om rasse-uitsluiting toe te smeer en die illusie te skep dat hulle wel daadwerklike aksie geneem het.

LEES OOK: OPVOLG: NWU SÊ DAAR IS GEEN BEWYSE VAN BEWERINGS NÁ VERWELKOMINGSFUNKSIE NIE
Beàtha Groenewald, wat tot gister die KSR se sekretaris was, het nie saam met die besluit gestem dat eerstejaarstudente van dorpskoshuise by die Puk se verwelkomingsfunksie uitgesluit is nie. Dit kom nadat huiskomiteelede van die dorpskoshuise na bewering Vrydaagaand 23:30 ‘n WhatsApp-boodskap van ‘n KSR-lid ontvang het, waarin hulle ingelig is dat eerstejaars die sessie aanlyn kan bywoon, weens die feit dat “hulle te wit is.”
Die NWU het ‘n ondersoek van stapel laat loop, waarna hulle gesê het dat daar geen bewyse van so ‘n boodskap is nie, en dat die amfiteater volgens hulle té vol was om al die studente te akkommodeer, daarom die besluit om studente te nooi om aanlyn die sessie te volg.
LEES OOK: JEUGORGANISASIE RIG SKRYWE AAN NWU OOR BEWEERDE RASSE-UITSLUITING
Die woordvoerder van die organisasie, René van der Vyver sê die kampusstudenteraad het gister (14 Februarie) aangekondig dat Groenewald uit haar amp verwyder is nadat ’n mosie van wantroue teen haar gebring is.
Die redes wat hiervoor gegee is sluit in dat sy nie haar pligte as KSR-lid nagekom het nie en dat sy “skuldig is aan die ongemagtigde verspreiding van konfidensiële inligting aan eksterne partye.” Van der Vyver sê die KSR-voorsitter, Yikumba Andreas, behoort ook te verduidelik na watter ‘konfidensiële inligting’ hy verwys, wanneer hy Groenewald daarvan beskuldig dat sy dit ongemagtig versprei het.
Groenewald het aan Pretoria FM gesê dat sy al vyf jaar ‘n student aan die NWU is, en dat hierdie haar tweede termyn in die KSR is. “Ek is uit my amp verwyder op grond daarvan dat ek vertroue met die studenteraad verbreek het, maar die waarheid is dat ek probeer opstaan het vir wat reg is en om die studente, wat my in hierdie leierskapposisie ingestem het, te probeer verdedig teen ongeregtigheid,” sê Groenewald.
LEES OOK: “DAAR WAS TÉ MIN PLEK VIR AL DIE EERSTEJAARS IN DIE AMFITEATER,” SÊ NWU OOR “RASSE-UITSLUITING”
Van der Vyver sê AfriForum Jeug aanvaar nie die Puk se antwoord nie en gaan voort met hul eie ondersoek.
Die NWU se woordvoerder, Louis Jacobs het in reaksie op hierdie verwikkelinge gesê dat die universiteit nie verder kommentaar gaan lewer nie, behalwe “dat konfidensiële inligting vanuit ‘n vergadering van ‘n amptelike struktuur van die universiteit, nie met buite partye bespreek word nie.”