18 Oktober 2021
Die departement van handel en nywerheid sê inligting – wat tydens die inperkingsperiode ingesamel is – kan moontlik tot verdere wysigings aan die Wysigingswetsontwerp op Drank lei.
Die wetsontwerp – wat in 2018 op die ys geplaas is – het dit ten doel om die Nasionale Drankwet van 2003 te wysig deur alkoholbeperkings te verskerp en regulasies daar te stel oor die advertering van alkohol en die regulering oor die verspreiding daarvan.
Volgens ‘n woordvoerder van die departement, Bongani Lukhele, is die departement besig om die voorgestelde wysigings te hersien.
Lukhele sê tydens die Covid-19 inperkings het dit duidelik geword dat die probleem van alkoholmisbruik in die land groter is as wat aanvanklik vermoed is.
Hy sê gevolglik sal die teenswoordige voorgestelde wetgewing onvoldoende wees om die probleem op te los en is ‘n meer omvattende benadering deur die regering nodig.