16 Januarie 2025
Die DA in Tshwane sê hy is teleurgesteld omdat die metroraad nie ‘n skoon oudit vir die 2023/24-geldjaar kon kry nie.
Die party se woordvoerder oor finansies in die metroraad, Jacqui Uys sê die ouditeur-generaal het daarop gewys dat die kultuur van prestasie nog nie onder die amptenare posgevat het nie.
Volgens haar is dit kommerwekkend dat ‘n gebrek aan interne prosesse daartoe lei dat elektrisiteit en water op ‘n groot skaal gesteel word – en dat die raad se wetstoepassingsagentskappe se hande afgekap is.
Uys sê hoewel die oudit verslag beduidend verbetering toon in die bestuur van die metro, wys die OG daarop dat daar nog nie ‘n verandering is aan die organisatoriese kultuur binne die metro nie.
Volgens haar sal dié kultuur slegs verander wanneer daar streng opgetree word teen amptenare wat belastingbetalers se geld misbruik.