Sterk mandaat vir konserwatiewe regering in Italië


Luister nou

Volgende

Sterk mandaat vir konserwatiewe regering in Italië

Nuuskommentaar: 27 September 2022

Deur: Jaco Kleynhans

Italië sal ná Sondag se verkiesing ʼn nuwe konserwatiewe regering hê. Die Italiaanse kiesers het ʼn duidelike mandaat aan ʼn koalisie van drie konserwatiewe partye gegee om ʼn nuwe regering te vorm. Dit is veral die prestasie van die party van Giorgia Meloni, Broederskap van Italië, wat van groot belang is. Dié party se steun het van 4% in die vorige verkiesing in 2018 tot meer as 25% in Sondag se verkiesing gegroei. Daarmee het Broederskap van Italië die grootste enkele party geword. Saam met nog twee konserwatiewe partye, Lega en Forza Italia, sal daar dus nou ʼn regse meerderheid in die Italiaanse parlement wees en behoort Meloni binnekort as nuwe Italiaanse premier aangewys te word.

Meloni het haarself ʼn paar jaar gelede by ʼn politieke byeenkoms soos volg voorgestel: “Ek is ʼn ma! Ek is Italiaans! Ek is ʼn Christen! Jy sal dit nie van my kan wegvat nie!” Meloni en haar party se steun het sedertdien drasties toegeneem en sy het veral internasionaal bekend geword vir haar uitgesproke konserwatiewe politieke standpunte en haar afkeer van ʼn globalistiese elite wat nie die waardes van gewone Italianers deel nie en wat nie in belang van Italië optree nie.

Meloni se prestasie in Sondag se verkiesing verteenwoordig ʼn duidelike afkeer van die globalistiese elite. Slegs drie dae voor die verkiesing het die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, tydens ʼn besoek aan die VSA gesê dat die Europese Unie die nodige instrumente tot sy beskikking het sou dinge in Italië in die sogenaamde verkeerde rigting beweeg. Dit is juis hierdie soort meerderwaardigheid van Von der Leyen waarteen Meloni haar tydens die verkiesingsveldtog herhaaldelik uitgespreek het.

Die mandaat wat konserwatiewe partye in Italië Sondag gekry het, volg slegs twee weke ná die algemene verkiesing in Swede waar die regse Sweedse Demokrate die groot wenner was. Dié anti-immigrasieparty, wat ook sterk ten gunste van ʼn herontdekking van Sweedse identiteit is, het byna 21% van die stemme gewen om die tweede grootste party in Swede te word.

Die opkoms van konserwatiewe politieke partye in Italië en Swede volg ná die verkiesingsoorwinning in Februarie van die konserwatiewe Fidesz-party van Viktor Orban in Hongarye. In April vanjaar kon die konserwatiewe Marine Le Pen in Frankryk 42% van die stemme in die tweede ronde van die Franse presidentsverkiesing behaal.

In Spanje en Portugal het konserwatiewe politieke partye wat noue bande met Meloni se Broederskap vir Italië het, ook die afgelope ruk sukses in streeksverkiesings behaal. In Brittanje het dit die afgelope drie weke duidelik geword dat die nuwe premier Liz Truss onbeskaamd van plan is om volgens die konserwatiewe beginsels van die eertydse Britse premier Margaret Thatcher te regeer.

Konserwatiewe regerings in Italië, Swede, Hongarye, Pole, Brittanje en in nog Europese lande sal oor die volgende maande deeglik getoets word. Terwyl die ideologiese aanslag op Christelike konserwatiewe waardes en die uitdagings wat ʼn sentralistiese politieke elite in Brussel voortdurend bied gaan voortduur, is dit veral die huidige ekonomiese probleme in Europa wat hierdie konserwatiewe regerings in Europa gaan toets. Dit is daarom belangrik dat Meloni se nuwe regering ʼn billike kans op sukses gegun moet word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

ENOCH

Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede

Untitled design (2)

Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

GraUysfXsAAcdKU

Solidariteit doen ‘n beroep op Ramaphosa om stappe aan te kondig om verhouding met VSA te herstel

Geld-1

Verbruikersprysinflasie nou op 2,8%

IMG-20220418-WA0228

Addo-park maak geskiedenis met die verskuiwing van 42 olifante

Ander Nuus Artikels

Screenshot 2025-05-21 123804
Nuuskommentaar: Internasionale Museumdag (18 Mei) se oproep tot ons
GreTTOMXoAArt_c
“Apartheidsbelasting” van die hand gewys
Grekf-sXIAACXI5
Politieke partye, organisasies reageer op die derde begroting
ENOCH
Minister Godongwana lewer vir die 3de keer sy begrotingsrede
Untitled design (2)
Hoëgehalte Brandstof van DSL Fuels – Beter vir Enjins, Beter vir Jou Besigheid

Sterk mandaat vir konserwatiewe regering in Italië


Luister nou

Volgende