Nuuskommentaar: 18 Mei 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Dit is nou reeds meer as tagtig dae sedert die Russiese weermag Oekraïne binnegeval het. Terwyl daar tydens die eerste weke van die oorlog byna daagliks vredesonderhandelinge plaasgevind het en die hoop bestaan het dat die oorlog van korte duur sou wees, neem vrese nou toe dat die oorlog nie binnekort tot ‘n einde gaan kom nie.
Toe die Russiese president, Wladimir Poetin, op Donderdag 24 Februarie ’n sogenaamde ‘spesiale militêre operasie’ in Oekraïne aangekondig het was sy doelwit, in sy eie woorde, om Oekraïne te demilitariseer omdat etniese Russe volgens Poetin erge diskriminasie in Oekraïne ervaar het en die regering van Oekraïne by Navo wou aansluit wat Rusland se veiligheid kon bedreig. Dit ten spyte daarvan dat Navo ‘n defensiewe verdragsorganisasie is wat geen offensiewe doelwitte het nie.
Dit was gou duidelik dat Rusland oortuig was daarvan dat hulle vinnig die regering in Kiëf omver kon werp met die doel om ’n Russies gesinde regering in Oekraïne te vestig. Dit het egter misluk met die Russiese weermag wat na ’n paar weke uit Kiëf en verskeie dele van die noorde van Oekraïne moes onttrek nadat duisende Russiese soldate dood is en ’n groot hoeveelheid Russiese tenks, helikopters en ander wapentuig deur die weermag van Oekraïne vernietig is.
Die afgelope paar weke is dit moeilik om presies vas te stel wat Rusland se einddoel in Oekraïne is. Die Russiese weermag fokus tans op die besetting van die hele Donbas-streek en ’n breë strook van dorpe en stede tussen die Donbas en die Krimskiereiland en verder wes tussen die Krimskiereiland en die Russiesgesinde wegbreek streek Transnistrië in Moldowa.
Die regering van Oekraïne is redelik duidelik in hulle oogmerke. Hoewel ’n vredesooreenkoms tydens die eerste weke van die oorlog dalk moontlik was, sou dit na alle waarskynlikheid groot opofferings deur Oekraïne behels het. Die land sou heelwat grondgebied verloor het en sou aan Rusland se eise van demilitarisering en ’n verbintenis om nie by Navo of die Europese Unie aan te sluit nie, moes voldoen. Die regering van Oekraïne het, met die steun van sowat 80% van die land se bevolking, besluit om eerder op die herstel van die land se soewereiniteit te fokus. Die president van Oekraïne het daarin geslaag om Westerse lande te oortuig om sy weermag van gevorderde wapens en ammunisie te voorsien.
Hoewel Westerse lande grootliks eensgesind is in hulle afkeur van die oorlog en hulle ondersteuning aan Oekraïne is daar geen konsensus oor hoe hulle wil sien die oorlog tot ‘n einde moet kom nie. Leiers soos Ursula von der Leyen van die EU en Boris Johnson, van Brittanje, wil sien dat Oekraïne die oorlog wen. Daarvoor sal baie meer Westerse wapens nodig wees – iets wat die risiko vir konflik tussen Rusland en die Weste verhoog. Die Amerikaanse regering wil sien dat Rusland sodanig verswak word dat die Russe nie gou weer ’n ander Europese land sal aanval nie.
Op een of ander manier sal die uiteenlopende doelstellings van Rusland, Oekraïne en die Weste versoen moet word. Dit is in belang van Oekraïne, Rusland maar ook die hele Europa dat die oorlog tot ‘n einde moet kom en dat langtermyn risiko’s vir almal se veiligheid daarmee saam tot die minimum beperk word.