8 Februarie 2024
President Cyril Ramaphosa het sy staatsrede gebruik om die regering se suksesse van die afgelope 30 jaar uit te lig, maar het ook darem lig gewerp op van die projekte wat in die vooruitsig gestel word, om die land uit verskeie krisisse te lig.
PretoriaFM het gaan kyk na vyf belangrike areas, waaroor die president gesels het:
Beurtkrag:
Oor die beurtragkrisis het die president die volgende te sê gehad: “Om te verseker dat ons nooit weer ‘n soortgelyke krisis in die gesig staar nie, gaan ons die kragstelsel hervorm om dit meer mededingend, volhoubaar en betroubaar te maak in die toekoms.”
“Ons gaan oor die volgende jare meer as 14,000km se nuwe transmissielyne aanlê om hernubare energiebronne aan die kragnetwerk te koppel.” Om die proses te versnel sal ons ook privaatbelegging in die transmissie infrastruktuur toelaat, deur innoverende beleggingsmodelle.
Deur die stappe te neem posisioneer ons ons ekonomie vir toekomstige groei in ‘n wêreld wat gekenmerk word deur klimaatsverandering en ‘n revolusie in groen tegnologie.”
Misdaad:
“Suid-Afrikaners verdien om veilig te wees en veilig te voel, om vrylik in openbare ruimtes en woonbuurte rond te loop.
Ons het die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitgebrei deur 20,000 polisiebeamptes oor die afgelope twee jaar aan te stel. Ons gaan nog 10,000 beamptes in die jaar aanstel. ‘n Ekstra 5,000 polisiebeamptes is by Openbare Orde Polisieëring ontplooi.
Sedert Mei verlede jaar, is 285,000 inhegtenisnemings uitgevoer onder Operasie Shanela.
Die Ekonomiese Infrastruktuur Taakspannne in al nege provinsies het belangrike suksesse behaal in hul poging om kabeldiefstal, skade aan kritieke infrastruktuur en onwettige mynbedrywighede te stop.
In samewerking met die privaatsektor het ons ook ‘n afname in voorvalle by die spoornetwerk gesien.”
Logistiek:
“Ons neem stappe om ons ondoeltreffende logistieke stelsels op te knap, en ons hawens en spoornetwerk te herstel na wêreldgehalte standaarde.
Tesame met die besigheid en die arbeidsektor het ons doelgerigte spanne aangewys om vyf strategiese korridors, wat verantwoordelik is vir die vervoer van uitvoerprodukte, reg te ruk.
Die aantal skepe wat by die Durbanse hawe wag om hul produkte af te laai, het van 60 skepe in middel November gedaal na 12 skepe teen die einde van Januarie.
Transnet het ‘n internasionale operateur aangestel om sy terminaal by Durban se hawe uit te brei en op te knap.
Ons is ook besig om die spoorvrag stelsel reg te ruk, deur private operateurs toegang te gee tot die spoornetwerk.”
Gesondheid:
“Hoewel ons gesondheidstelsel reeds ‘n groot impak op mense se lewens gehad het, werk ons steeds om beide die kwaliteit van gesondheidsorg en die toegang tot die dienste te verbeter.”
Die Nasionale Gesondheidsversekering sal gratis sorg gee vir alle Suid-Afrikaners, ongeag of dit by openbare of privaat gesondheidsfasiliteite is.
“Ons beplan om die NGV in fases te implementeer.”
Korrupsie:
Meer as 200 verdagtes wat by staatskaping betrek word, word tans vervolg. Vele ander word ondersoek.
Gesteelde geld word terug geneem, en rekeninge met ‘n totale waarde van R14-miljard is bevries.
R8,6-miljard wat verlore gegaan het weens korrupsie is aan die staat terugbesorg.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het R48-miljard in onbetaalde belasting ingevorder, op grond van getuienis wat gelewer is by die Staatskapingskommissie, terwyl die Spesiale Ondersoek Eenheid siviele sake begin het om R64-miljard terug te kry.
Ons het stappe geneem, deur nuwe wetgewing, om ons vermoeë om geldwassery en bedrog te keer, en om seker te maak ons word verwyder van die Finansieële Aksie Taakmag se gryslys af.
https://twitter.com/PresidencyZA/status/1755652684730822845?t=IKUj5VYOc0k0ifadPplCyg&s=19