Nuuskommentaar: 15 Februarie 2022
Deur: Joost Strydom
Min nuwe dinge is gesê
Op 10 Januarie 2018 het DispatchLIVE berig: Ramaphosa belowe een miljoen nuwe werksgeleenthede.
Mediaberigte in Mei 2019 dui weer daarop dat President Cyril Ramaphosa vir die jeug van Suid-Afrika een miljoen werksgeleenthede gaan skep.
In 2020 onderneem president Ramaphosa deur die “presidensiële indiensneming stimulus” om 800 000 werksgeleenthede in die finansiële jaar te skep.
Times Live se berig in September 2021haal die president heelwat minder spesifiek aan; die berig meld slegs “groot planne vir werkskepping”.
Dieselfde lyn kan deurgetrek word met heelwat ander “generiese beloftes”, byvoorbeeld dat korrupsie en staatskaping hard hanteer en beveg sal word. Dit het ons almal weer in die 2022 SONA-toespraak gehoor.
Beloftes wat rewolusionêre verandering eis
Omdat die president min nuwe dinge gesê het, is dit goed om met nuwe ore na ou sinne, frases, beloftes en idees te luister. Dit is egter belangrik om fyn te luister want dit gaan byna ongesiens verby.
Die president lê deurlopend klem op verandering. Die verandering waarna hy verwys is rewolusionêr, maar klink baie sag op die oor. “Fundamental reforms and change are needed to revive economic change”, “We are rebuilding the state”, “If there is one thing we all agree on, it is that the present state of deep poverty, unemployment and inequality is unacceptable…. fundamental change is needed…” en ʼn persoonlike gunsteling “We are working together to end the inequality that impasse our progress as a nation”.
Behalwe dat die meeste van ons met die president saamstem oor hoe groot die uitdagings is wat voor die land en sy ekonomie staan, verskil ons dalk oor die redes en oplossings. Die ongedefinieerde terme soos “ongelykheid”, “vooruitgang as ʼn nasie”, en “fundamentele veranderinge” laat ʼn baie grys area, oop vir interpretasie vir wie ook al die mag het. Met die ANC se geskiedenis in ag geneem, glo die meeste van ons dat dit eintlik maar verdere rewolusionêre pogings is om ʼn sogenaamde “ou stelsel (dit wil sê vryemark of nie-kommunisties) te vernietig” eerder as enige nuwe planne.
Die meeste Suid-Afrikaners, regoor kultuurgroepe, stem waarskynlik saam dat fundamentele verandering nodig is. Verandering wat wel die werkskepping wat die president belowe het sal verwesenlik begin nie by werkskeppingkomitees, korrupsie-taakspanne en derduisende kommissies van ondersoek nie. Dit begin by ophou geld steel by belastingbetalers. Verandering wat welkom sal wees is minder staatsinmenging by die vryemark, sodat entrepreneurs werk kan skep. Nie die staat nie.
Waar lê die oplossings dan?
Vir baie Suid-Afrikaners, veral vir Afrikaners, is dit toenemend skrikwekkend dat die staat elke dag nuwe vlakke van onbevoegdheid bereik en toenemend minder beheer oor die land, staatsinstellings, en orde het.
Dit is dalk tyd dat Afrikaners hulle minder ontstel oor leë beloftes en onbevoegde staatsamptenare. Die tyd van sentrale beheer van Suid-Afrika is besig om verby te gaan. Die staatsbestuurbeginsels wat die afgelope honderd jaar Suid-Afrika se verstekposisie geword het, verkrummel.
Ieder met enige insig in die huidige toestand kan dit sien, en dit is waar oplossings vir die toekoms begin.
Hoe dan, sou elkeen van ons se oplossingsgedrewe ‘mini-SONA’-toespraak vir ons plaaslike gemeenskap gelyk het?
Dit is die Orania-manier, en daarom die manier waarin ek vertroue het.