26 Februarie 2024
`n Groep besorgde staatsdienspensioenarisse oorweeg regstappe om te verseker dat die staatsdienspensioenfonds (GEPF) volhoubaar bestuur word.

Die Vereniging vir die monitering en voorspraak vir staatswerknemerspensioene (AMAGP) is in die lewe geroep om te verseker dat werknemers, en voormalige werknemers van die staatsdiens, se pensioenfonds op `n volhoubare wyse bestuur word.
Een van die besorgde pensioenarisse, Zirk Gous, het aan Klankkoerant gesê dat daar `n groot verskil is in die wyse waarop privaat pernsioenfondse bestuur word teenoor die staatspensioenfonds.
“Met privaat fondse word beleggings in die beste belang van die fonds gedoen en moet sleutelamptenare aan `n bepaalde standaard voldoen. Verder het die werkgewer en die werknemer gelyke insette met die aanstelling van trustees.”
Gous sê die staatspensioenfonds geniet nie daardie tipe statutêre beskerming nie.
“Werkgewers het geen insae nie en die wetgewing bepaal dat die minister finansies die fonds bestuur. Die raad van trustees word ook deur die minister aangewys. Prakties gee dit vir die minister beheer oor die beleggingsomgewing en die gelde van die GEPF.”
Daar heers ook kommer oor die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat daarmee getaak is om die staatsdienspensioenfonds se beleggings te hanteer. Volgens Gous is die minister se invloed daar selfs groter aangesien die direksie volledig deur die minister aangewys word met die adjunk-minister wat as voorsitter dien. Gous sê verder dat die beleggersprioriteite van die OBK eerder soos `n verkiesingsmanifes klink met werkskepping en transformasie van die ekonomie en die samelewing wat vooropgestel word.
Die Mpati-kommisie, onder leiding van regter Lex Mpati, het in 2020 hulle bevindinge van `n ondersoek na die werksaamhede van die OBK bekendgemaak. Daar is onder meer bevind dat daar R34-miljard se beleggings afgeskryf moes word. Regt Mpati het aanbeveel dat die minister van finansies geen betrokkenheid by die fonds of die aanwysing van die direksie moet hê nie.
Volgens Gous beplan die AMAGP ook litigasie om die volhoubaarheid van die pensioenfonds te verseker.
Die AMAGP gaan op 27 Februarie om 18:00 `n openbare geleentheid by die NG Gemeente Villeria aanbied. Navrae kan gerig word aan Zirk Gous by 084 512 5104.