12 Januarie 2022
Die departement van gesondheid het ‘n beroep op mense gedoen om enige negatiewe reaksie teenoor die Covid-19-entstof onmiddellik by die departement aan te meld.
Dit kom te midde van ‘n video, wat tans wyd op sosiale media versprei word waarin ‘n man beweer dat hy met keelkanker gediagnoseer is en meen dit is veroorsaak weens die Covid-19-entstof.
Die departement het in ‘n verklaring ‘n beroep op mense gedoen om nié hierdie tipe inligting op sosiale media-platforms te deel nie en om dit aan te meld by die departement of die betrokke inentingslokaal.
Die woordvoerder, Foster Mohale sê in elke provinsie en distrik is daar ‘n amptenaar van die gesondheidsdepartement aangestel om enige negatiewe uitwerkings op die inenting te ondersoek.
“Covid-19-inentings is veilig en doeltreffend om hospitalisasies te voorkom. Ons vra dat mense nie hulle eie of ander mense se gesondheidstoestande gebruik om hulle eie teorië te bevorder nie.” Enige newe-effekte kan aangemeld word deur die Med Safety toepassing te gebruik – (https://medsafety.sahpra.org.za/).