22 Desember 2021
Motoriste in die Noord-Kaap en die Vrystaat word gewaarsku om op die uitkyk te wees vir swerms sprinkane wat die toestande op die paaie bemoeilik.
Die Noord-Kaapse departement van landbou het verlede week gewaarsku oor die bruin sprinkane wat oeste en plantlewe vernietig, maar nou ’n padveiligheidsprobleem geword het.
Hoewel die sprinkane in die Noord-Kaap begin amok maak het, is hulle nou op pad Vrystaat toe en dié twee provinsies bly vir eers die enigste twee wat op ’n hoë gereedheidsgrondslag geplaas is.
Die departement sê die sprinkane is uiters gevaarlik vir motoriste en dat vuil windskerms en swak sig verkeersontwrigtings kan meebring op ván die hoofroetes tussen die twee provinsies. Motoriste word versoek om uiters versigtig te bestuur as hulle in hierdie swerms vasry.
Die Outomobiel Assosiasie, die AA, waarsku ook op sý Twitterblad dat motoriste ná die goeie reënval versigtig moet wees as hulle deur swerms sprinkane ry.
Fotokrediet: Koos Smit