26 Julie 2022
Die VF Plus het president Cyril Ramaphosa en die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel versoek om spesifiek regulasies wat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) rig, te laat vaar om te verseker dat die mees effektiewe verkrygingsbeleid en kundigheid op meriete beskikbaar gestel word om die land se kragkrisis te hanteer.
LEES OOK: REGERING SE KRAGPLAN KRY GEMENGDE REAKSIE
DIe party meen ‘n gebrek aan kundige amptenare en ingenieurs asook middelmanne wat voordeel trek uit SEB in die waardeketting – van steenkoollewering tot algemene verbruikbare items – deur buitensporige pryse te vra, het oor tyd Eskom se kostedoeltreffendheid ‘n nekslag toegedien en uiteindelik gelei tot beurtkrag.
“Gesaghebbende navorsing deur die Solidariteit Navorsingsinstituut toon dat Eskom in 2021 ‘n verlies van R9.1 miljard gely het en dat SEB die kragreus waarskynlik meer as R12 miljard gekos het,” sê die VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor handel, nywerheid en mededinging, Jaco Mulder.
LEES OOK: RAMAPHOSA KONDIG DRINGENDE INGRYPINGS AAN TE MIDDE VAN KRAGKRISIS
Hy sê indien enige rassevereistes vir verkryging en registrasie van opwekkingsprojekte by die nasionale energie reguleerder (Nersa) nie geskrap word nie, sal die plan om Suid-Afrika van ‘n energiekrisis te red, misluk.