1 Junie 2023
Die vakbond, Solidariteit het ‘n skrywe aan minstens 2 000 van Suid-Afrika se grootste maatskappye gerig waarin hulle gevra is om protes teen die regering se nuutste raswette aan te teken.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann sê hulle vra ondermeer dat die maatskappye saam ‘n standpunt inneem téén die raswette en dat hulle weier om dit te implementeer. “Ons vra ook dat politieke druk op die regering uitgeoefen word, en dat die maatskappye hulle tot die regstryd wend.”
“Volgens die skrywe maak maatskappye, wat hierdie wet gehoorsaam hulle mede-aandadig aan die onreg.” Hermann sê die skrywe wys ook daarop dat die nuwe wet werkgewers se reg om besigheid te doen en werknemers se reg om te werk van hulle ontneem.
Hy sê verder dat hierdie regulasies van Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld maak.
Die nuwe raswet en -regulasies verleen aan die minister van indiensneming en arbeid die reg om sektore te identifiseer en rassekwotas vir die sektore te bepaal wat op werkgewers afgedwing kan word.
