Solidariteit het hofstukke op die minister van indiensneming en arbeid, Nomakhosazana Meth, beteken waarin daar gevra word dat sy skuldig bevind word aan minagting.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr Dirk Hermann sê hierdie hofaksie is deel van Solidariteit se stryd teen raswette en volg op die vakbond se aankondiging dat ’n spesiale regsfonds van R7 miljoen opsy gesit word om die geveg plaaslik en internasionaal na ’n volgende vlak te neem.
Hermann sê die hofsaak hou verband met die regering se verontagsaming van die skikking oor rasbeleide in die werkplek wat tussen die regering en Solidariteit bereik is en wat ingevolge ’n hofbevel in regulasies van die Wet op Billike Indiensneming vervat móés word.
Hy sê die bepalings van dié ooreenkoms, wat ’n duidelike streep deur rassekwotas trek, was egter geensins te sien in die regulasies wat die Departement van Indiensneming en Arbeid op 15 April 2025 in die Staatskoerant gepubliseer het nie.
“Die regering het doelbewus besluit om hierdie bepalings te verwyder ten spyte van ’n hofbevel daaroor. Dit is ’n growwe skending van die reg en ondermyn die alreeds uiters beperkte vertroue in die staat,” sê Hermann.
Hy sê die minagtingsaak is slegs een van Solidariteit se omvattende aksies teen rassewetgewing.