8 Oktober 2024
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het vroeër vandag ‘n konsepvoorstel vir ʼn verbeterde gesondheidsorgstelsel – as ‘n alternatief vir die regering se Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) – bekend gestel.
Die SNI sê terwyl die debat voortwoed oor die NGV, het die instituut besluit om nie net teen die NGV te vég nie, maar ook om met voorstelle en oplossings van sy eie vorendag te kom.
LEES OOK: Hofstryd teen NGV gaan onbetwis voort ná regering spertyd weer mis
‘n Senior navorser verbonde aan die SNI, Theuns du Buisson meen daar is verskeie redes waarom die NGV selfs meer skadelik as Suid-Afrika se huidige gesondheidsorgstelsel sal wees.
Hy sê in sy voorstel vergelyk Solidariteit die huidige gesondheidstelsel, die beplande NGV én die SNI se konsepvoorstel met mekaar. Du Buisson meen Suid-Afrika beskik tans oor universele gesondheidsorg waar diens en infrastruktuur erg tekort skiet.
Volgens Du Buisson sou die NGV die staat bankrot maak indien dit wel geïmplementeer word. Hy sê die SNI se voorgestelde stelsel verbeter beide die huidige gesondheidsorgstelsel en die beplande NGV.
“So ʼn stelsel versprei gesondheidsorgfinansiering onder baie rolspelers, en kan die probleem van lae gehalte in die openbare stelsel en onbekostigbaarheid in die privaat stelsel, die hoof bied,” sê Du Buisson. Hy het benadruk dat die NGV, volgens die SNI, nié die oplossing is vir die probleme binne Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel is nie.
LEES OOK: Motsoaledi se vergelyking van NGV-kritiek met apartheid is onaanvaarbaar, sê Solidariteit
“Daarom is ʼn hofaansoek teen hierdie ongrondwetlike, onwerkbare en onbekostigbare NGV-stelsel gebring. Hierdie hofaksies gaan Solidariteit ongeveer R2,5-miljoen uit die sak jaag, en daarom word ʼn beroep op die publiek gedoen om die regstryd sover moontlik te ondersteun.”