20 Julie 2022
Die vakbond Solidariteit meen Eskom se jongste aansoek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) is absurd, irrasioneel en onwettig en indien die voorstel aanvaar word sal Solidariteit dit met elke regsopsie tot sy beskikking teenstaan.
Dit volg nadat Eskom in sy jongste aansoek onder meer gevra het dat ʼn tarief van R938 per maand op verbruikers gehef word wat self krag opwek.
Solidariteit se bestuurshoof, dr. Dirk Hermann meen dat die land juis nou uit sy pad moet gaan om privaat kragopwekking aan te moedig en te vergemaklik.
“As Eskom dan nie self by oplossings betrokke wil wees nie, sal ons litigeer totdat Eskom ten minste nie meer in die pad van ander staan, wat dit wil oplos nie,” sê Hermann.
Hy sê in plaas daarvan om privaat kragopwekking aan te moedig, wil Eskom dit nou belas. “Om belasting vir ʼn diens te betaal is een ding; om belasting te betaal vir geen diens nie, is iets totaal anders.”