27 Mei 2024
Politieke partye, drukgroepe, en ander organisasies het vandag ingestem om mekaar te ondersteun met enige individuele aksies wat teen die Nasionale Gesondheidsversekeringswet, oftewel die NGV beplan word.

Rolspelers het vandag by Solidariteit se krisisberaad byeengekom om ‘n verenigde front voor te hou, wat die NGV betref. Dit kom nadat president Cyril Ramaphosa vroeër die maand die wet bekragtig het.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr Dirk Hermann sê partye verbonde aan die Veelpartyhandves beoog onder meer om ‘n artikel 80-aansoek voor die Grondwethof te bring om die NGV-wet so gou moontlik ongrondwetlik te verklaar.
“‘n Derde van parlementslede se steun is nodig vir só ‘n aansoek om te slaag.” Hy sê teenwoordigers van AfriForum, Solidariteit, Sakeliga, die Vryemarkstigting en die Instituut vir Rasseverhoudinge was saam met die VF Plus, die ACDP en Action SA by die krisisberaad verteenwoordig.
“Wat ons nou hier sien is ‘n toenemend belynde aanval op die NGV deur verskeie vorme van litigasie en dan politieke en burgerlike druk. Hierdie soort gesamentlike druk is groter as partypolitiek en daar lê groot krag daarin opgesluit,” meen Hermann.