4 Oktober 2021
Solidariteit het die Suid-Afrikaanse regering vandag ingevolge die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Rassediskriminasie (ICERD) by die Verenigde Nasies (VN) in Genève, Switserland aangekla oor sogemaamde rasmalheid.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann sê indien hul klag slaag, kan dit die aangesig van die regering se rassebeleid vir altyd verander. Volgens hom is dit die eerste keer wat die Suid-Afrikaanse regering formeel by die VN oor rassediskriminasie aangekla word.
Hermann meen dié klag ʼn historiese klag omdat Suid-Afrika, volgens hom, die mees rasgereguleerde land in die wêreld is. Hy sê ras het die hoogste reg geword en dit word selfs verder gevoer as wat internasionale konvensies toelaat.
Volgens Hermann het meer as 300 000 Suid-Afrikaners hul steun tot die klag toegevoeg, wat dit ook die grootse internasionale massaklag van sy soort maak.
Die huidige klag volg ná ʼn lang stryd wat Solidariteit al sedert 2016 by die VN oor die Suid-Afrikaanse regering se rassebeleid voer.
“Solidariteit het nou alle interne remedies uitgeput en kan nou ʼn substantiewe klag by ICERD indien. ʼn Substantiewe klag is ʼn regsproses en die klag gaan deur ʼn paneel bestaande uit internasionale regskenners aangehoor word. Ons het ʼn baie lang pad gestap, maar is nou in ʼn baie sterk regsposisie,” sê Anton van der Bijl, die hoof van Regsdienste by Solidariteit.
Stem vir die Aitsa’s