24 Mei 2024
Die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ongeldig, sê Solidariteit in sy hofstukke wat later vandag op die regering beteken gaan word.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr Dirk Hermann sê die kennisgewing in die Staatskoerant stel nie die wet in werking nie, en meen die kennisgewing voldoen nie aan die vereistes wat die NGV-wet bepaal vir inwerkingstelling nie.
“Enige aksie wat uit die kennisgewing voortvloei, sal onwettig wees,” meen Hermann. Volgens hom kan hierdie onthulling die implementering van die NGV tot stilstand bring.
Die betekening van die hofstukke volg nadat pres. Cyril Ramaphosa nié die wetgewing teen Donderdag se sperdatum wat deur Solidariteit se regspan gestel is, teruggetrek het nie.
LEES OOK: RAMAPHOSA “VIND SY PEN” EN BEKRAGTIG NGV
In dié hofstukke, waarmee hierdie groot regstryd amptelik gaan begin, argumenteer Solidariteit dat Ramaphosa se blote ondertekening daarvan verlede week nie hierdie wet in werking stel nie, aangesien tegniese gebreke daarin dit van sy wettigheid stroop.
Die adjunkbestuurshoof van Solidariteit, Anton van der Bijl meen die oorhaastige ondertekening en die ooglopende tegniese gebreke bevestig dat dit roekelose stemwerwing is. “Die korrekte promulgering van die wet het nog baie werk nodig. Die regering is nie gereed daarvoor nie. Hulle teken toe vinnig en skep die indruk onder die publiek dat die wet in werking gestel is,” sê Hermann.
Hier is skakels na die konsepstukke wat later vandag uitgereik word:
Solidariteit-hofstukke A
Solidariteit-hofstukke B