20 Junie 2022
Solidariteit het ʼn skrywe aan die minster van gesondheid, dr. Joe Phaahla, gestuur waarin hul eis dat die omstrede gesondheidsregulasies teruggetrek word.
Indien die minister dit nie terugtrek nie, gaan Solidariteit vra vir ʼn bestraffende kostebevel.
Solidariteit eis dat die regulasies voor daardie datum teruggetrek moet word. Organisasies soos AfriForum se aansoek word op dieselfde dag aangehoor. Die aansoek kom nadat die minister se rekord in die saak geliasseer is.
Volgens Solidariteit bevestig die regering se eie rekord dat die regulasies onregmatig is.
Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit, sê om die omstrede regulasies in die hof te gaan verdedig, gaan belastingbetalers se geld en die hof se tyd mors.
Volgens die skrywe van Solidariteit moet die regulasies aan ʼn maatstaf van rasionaliteit gemeet word. “Die regulasies slaag nie die rasionaliteittoets nie. Dit is so duidelik dat dit nie vir ʼn regter nodig is om dit te bevind nie.”
Hy meen hierdie regulasies gaan nie oor maskers nie, maar oor mag en beheer. “Die minister wil deur hierdie regulasies die tydelike Covid-19-beheermaatreëls in permanente beheermaatreëls omskep,” sê Hermann.
Volgens die ministeriële adviesraad was die maatreëls wat ingestel is, onvoldoende om verspreiding van die virus te keer, maar dieselfde maatreëls word nou weer in nuwe regulasies afgekondig.
Die vakbond se aansoek word einde Julie aangehoor.