11 September 2024
Die Solidariteit Beweging gaan voort met regstappe nadat hy inligting ontvang het dat president Cyril Ramaphosa komende Vrydag die omstrede Bela-wet wil onderteken.
Solidariteit het vanoggend saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS), AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) dié stap aangekondig.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann het die beplande ondertekening van die Bela-wet as ‘n daad van aggressie teen die Afrikaanse gemeenskap beskryf. Volgens hom sal die Bela-wet die regering die mag gee om oor kinders se onderrig, taal en toelating te besluit.
LEES OOK: Organisasies rig petisie aan Ramaphosa oor Bela-wet
Hermann sê al het die ANC se steun tot onder 40% gedaal, tree Ramaphosa steeds op as hy alleen mag het.
Volgens die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys het die DA en die VF Plus aangedui dat hulle met Ramaphosa gaan vergader om die omstrede wet te bespreek. Hermann sê die beweging se oproep op die twee partye is nié net om teen die ondertekening te wees nie, maar om ‘n dispuut te verklaar.
Volgens Hermann is hierdie ‘n groot toets vir die Regering van Nasionale Eenheid.
LEES OOK: NV se goedkeuring van Bela-wet nié met ope arms ontvang nie
Die kommunikasiebestuurder van die FAK, Gerhard Pretorius het tydens sy spreekbeurt gesê dat “bela, belaglik is met ‘n paar letters by.”
Die hoof van kultuursake by AfriForum, Alana Bailey sê die organisasie beskou Bela as ’n poging tot kulturele etniese suiwering deur die ANC-regering, aangesien dit die vernietiging van ’n taal- en kultuurgemeenskap se skole sal moontlik maak om sodoende die groep se kulturele voorbestaan in gedrang te bring.
Die DA het intussen gesê as die president voortgaan om dit te onderteken – ten spyte van sy besware – sal dit indruis teen die letter en die gees van die gesamentlike verklaring van voorneme, wat die grondslag van die RNE vorm.
LEES OOK: Solidariteit, AfriForum gereed vir regstryd as Bela-wet onderteken word
Volgens die leier van die DA, John Steenhuisen het hulle dit tydens onderhandelinge duidelik gemaak dat die sogenaamde BELA-wet – in sy huidige vorm – onaanvaarbaar is aangesien dit indruis teen die waardes van die Grondwet.
Die VF Plus-LP en hoof woordvoerder oor basiese onderwys, dr. Wynand Boshoff sê die teken van die omstrede wet moet gekeer word. Hy meen die wet is ondeurdag en gaan tot onnodige onsekerheid en dispute lei oor reeds duidelik vasgestelde regte en verpligtinge met betrekking tot basiese onderwys.