14 September 2022
Die vakbond, Solidariteit het vroeër vandeesmaand in ʼn skrywe aan die adjunk-direkteurgeneraal van die Nasionale Gesondheidsversekering, dr. Nicholas Crisp gedreig met regsaksie indien die Departement van Gesondheid nie sy advertensies vir poste binne die NGV teen Maandag, 17 September onttrek nie.
Dit volg nadat die departement in Augustus 44 poste vir die NGV begin adverteer het ondanks die feit dat die wetsontwerp steeds deur parlementêre prosesse moet gaan en nie naastenby gefinaliseer is nie.
Die hoof van die Solidariteit Navorsinginstituut, Connie Mulder sê dr Crisp se eie uitlating oor die NGV is dat geen amptelike aankondigings gemaak kan word rakende die ontplooiing of implementering nie aangesien die wetsontwerp nog voor die parlement moet dien.
Hy meen dit is onaanvaarbaar dat senior regeringsamptenare uit twee monde begin praat oor wetgewing en die implementering van wette wat verdoemende gevolge vir ons almal inhou, want dit dui op ʼn minagting van die regsproses.