6 November 2024
Die Solidariteit Beweging sê hy doen nou ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om in te gryp sodat gesprekke oor die omstrede Bela-wet voortgesit kan word.

Dit kom ná nagenoeg 10 000 mense gister aan die beweging se optog teen dié wet deelgeneem het. ‘n Memorandum is aan verteenwoordigers van die regering van nasionale eenheid oorhanding.
Volgens die operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, Werner Human het gister se optog gewys hoe gewone Afrikaanssprekendes en ondersteuners oor moedertaalonderwys voel.
LEES OOK: Bela: “10 000 mense staan op vir Afrikaanse kinders se toekoms”
Human meen die Bela-wet, en hoe daarop gereageer word, is die regenering van nasionale eenheid se grootste toets tot dusver.
Hy sê die nasionale werkkomitee van die ANC se oproep om Bela in die geheel te implementeer, sal gesprekvoering tot ʼn einde bring, en meen dit ondermyn die president se oproep tot gesprek. Dit sal die spanning net verhoog en sal vertroue in die land skaad. Dit sal die hele regering van nasionale eenheid in gevaar plaas.
Human sê dit is belangrik dat gesprekke oor die kwessie voortgesit word.