9 Junie 2022
Solidariteit het vandag ’n klagte van bedrog, korrupsie en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur teen Brian Molefe, Anoj Singh, Matshela Koko en Mosebenzi Zwane ingedien.
Volgens Solidariteit is geregtigheid alreeds hopeloos te lank uitgestel en verdien Suid-Afrikaanse burgers onmiddellike optrede vanaf die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander strukture.
Die bestuurshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann sê die onreg van jarelange korrupsie en diefstal kan nie verder voortduur deur ’n gesloer van die land se strafstelsel se kant af nie.
Hy meen die druk is nou op ons veiligheidsdienste om hulle werk te doen en enige verdere gesleep van voete sal nie geduld word nie.
In sy klagte beweer Solidariteit dat hierdie individue verantwoordelik is vir meer as R14,7 miljard se onwettige kontrakte by Eskom terwyl oud-minister, Mosebenzi Zwane, daarvan beskuldig word dat hy ʼn behuisingsprojek ter waarde van sowat R1 miljard wanbestuur het.
“Vir Suid-Afrikaners om hoop en enige vertroue in die regsproses te hê moet daar nagevolge wees vir persone wat hulself onregmatig verryk ten koste van die land se welvaart en bestaan. As dit waar is dat hulle verantwoordelik is vir dié noodlottige situasie van ons enigste kragvoorsiener moet hulle boet vir elke misdryf en magsvergryp wat in die klagte omskryf word,” meen Hermann.