19 Januarie 2023
Solidariteit het vandag met ʼn regsproses teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika, Nersa, begin in ‘n poging om struikelblokke in die pad van privaat-elektrisiteitsverskaffers uit die weg te ruim.
Volgens die bedryfshoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann, lê die oplossing vir die land se energieprobleme in minder staat en meer privaat.
Hy sê die eerste stap is om Nersa – deur ʼn openbaarmakingsproses – te dwing om inligting bekend te maak oor waarom daar nog so min lisensies aan privaat kragopwekkers toegeken is.
Hermann sê op grond van dié inligting sal bepaal kan word waar die bottelnekke lê en watter verdere stappe gedoen moet word om dit uit die weg te ruim.
In Solidariteit se aansoek eis hy onder meer inligting oor die getal aansoeke wat Nersa vir privaat kragopwekking ontvang het en hoe lank goedkeuring van hierdie aansoeke neem.
Solidariteit eis verder dat Nersa rekenskap gee oor hoekom geen riglyne oor toevoer- en versendingstariewe nog tot dusver gepubliseer is nie.