Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie, SANWU, sê hy het klagtes van sy lede ontvang dat die weermag nie voldoende uitrusting kan uitreik nie.
SANWU se hoofsekretaris, advokaat Pikkie Greeff, het tydens ‘n radio-onderhoud gesê dat daar in sommige gevalle selfs vir soldate gesê is dat hulle slegs ontplooi sal kan word as hulle hul eie stewels koop.
Volgens hom kos die stewels tussen R1500- en R2000 per paar.
Greeff sê dat dié verskaffingsprobleem al ‘n paar jaar lank duur en dat daar gevalle is waar daar kos by winkels gebedel is gedurende die weermag se ontplooiing tydens die Covid-19-inperkings.
Volgens Greeff was daar ook gevalle in 2021 tydens die grootskaalse onluste in KwaZulu-Natal waar daar nie genoeg voedselvoorrade was nie, omdat dit nie betyds afgelewer is nie. Hy sê in die Demokratiese Republiek die Kongo was daar dae wat soldate net een keer per dag ‘n ete gekry het omdat verskaffers nie betaal is nie.
Die vakbond wys daarop dat die huidige stand van sake die soldate se motivering knou.