25 Augustus 2023
‘n Noodvergadering sal vandag gehou word te midde van gerugte dat die hoof van die Spaanse Sokkerfederasie, Luis Rubiales (46) sy bedanking gaan aankondig.
Hy het vir groot opspraak gesorg nadat hy enkele dae gelede ‘n speler van die Spaanse vroue sokkerspan op die mond gesoen het ná hulle wen in die finaal van die Vroue Sokker Wêreldbeker teen Engeland in Australië.
Volgens berigte het hy Jenni Hermoso sonder haar toestemming na afloop van die wedstryd gesoen.
Rubiales sal glo voor rolspelers van Spanje se streeksfederasies, sokkerklubs, spelers, afrigters en skeidsregters moet verskyn. Plaaslike media berig dat hy wél gaan bedank.
FIFA het ook met dissiplinêre stappe teen Rubiales begin nadat Spanje se waarnemende eerste minister, Pedro Sanchez gesê het hy voel dat Rubiales nie opreg was toe hy om verskoning gevra het nie.
Hermoso het na afloop van die soen op haar sosiale media-profiele gesê dat sy nié gelukkig met die soen was nie, maar dat sy nie iets daaraan kon doen nie.
Foto: Daily Mail
