28 Mei 2021
Die VF Plus eis dat die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko en die Gautengse polisiekommissaris, luitenant-generaal Elias Mawela, dringend optree om die huidige vlaag van misdaad op Gautengse snelweë hok te slaan.
LEES OOK: POLISIEBEAMPTE OP DIE N4 IN PRETORIA DOODGESKIET; VERDAGTES STEEDS SOEK
Die party sê voorvalle waar petrolbomme na motoriste geslinger word en skerp voorwerpe in die pad geplaas word om voertuie tot stilstand te dwing, vind gereeld in Gauteng plaas en is aan die toeneem.
Wetstoepassers in Gauteng het reeds die afgelope ruk talle waarskuwings uitgereik oor ‘n toename in gevalle van skerp voorwerpe wat op paaie geplaas word. Die N4 by verskeie afritte is veral geteiken.

Die VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng, Kobus Hoffman sên die N4 en R104 tussen Pretoria-Oos en Bronkhorstspruit word veral geteiken deur moderne struikrowers wat skerp voorwerpe in die pad plaas.
In die jongste voorval het ‘n groep betogers verlede Donderdag en Vrydagoggend langs die R59-snelweg buite Alberton in lang gras weggekruip en vragmotors en motors met petrolbomme en klippe bestook.
Twee vragmotors is getref wat ‘n botsing met twee motors veroorsaak het. Verskeie ander motors is ook deur petrolbomme getref. Betogers het ook die pad met brandende bande, bloekombome en stukke beton versper.
LEES OOK: MOTORISTE OPNUUT GEWAARSKU OOR SKERP VOORWERPE IN PAAIE
Hoffman meen patrollies om verdagte optrede langs paaie te voorkom en skerp voorwerpe te verwyder, moet deurgaans plaasvind.